Laat dit dan wees, o Heer, dat ek
’n duisend jaar gelee teen God
en mens gesondig het . . .
Dan weet ek nou, op u bevel
is hierdie skurfte blootgestel:
In watter dieptes, stankbesmet
en met verrotte slym besmeer,
het ek nie daar versleg,
dat selfs U, Heer, van my moes wyk . . .
my nie wou reinig van die slyk?
Laat my dan maar soos Lasarus
tevrede wees met streling van
elk honger hondetong;
dan weet ek tog, dis u besluit,
die vloekstraf van ’n donker huid.
As dit u straf is, dat ek so
moet ly, dan wil ek swyg, o Heer;
leer my berusting dan;
laat my dan maar my kruisweg gaan,
tot waar ek voor die donker staan . . .






